JP Landman
Een van my gunsteling Suid Afrikaners is JP Landman. Ek het eenkeer (in 2003 toe my uitkyk baie verder links was as nou), reageer op iets wat hy in Beeld gekryf het. Hy het toe die brief hieronder aan my gestuur. Meer onlangs het is ‘n artikel in die M&G publiseer, waarin Landman dieselfde uitgangspunt handhaaf as destyds aan my. Dit is goed om te sien hy is nou ‘n lid van pres. Mbeki se ekonomiese adviesraad. (En gelukkig was ek nooit ‘n kandidaat nie!)
…
Dankie vir jou brief wat Beeld na my toe aangestuur het. Jy maak
interessante punte en ek sal graag daaroor "gesels". Ek neem dus die
vrymoedigheid om te reageer.
Ek stem saam met jou twee toetse: werkloosheid moet afneem en die
Gini-lesing moet verbeter. Dit is uiteindelik waaroor "the wealth of
nations" gaan - vir my in elk geval. My eie gevoel, wat ek ookal publiek
uitgespreek het, is dat ons besig is met ‘n tien jaar aanpassing (moontlik
langer hoe duideliker die nagevolge van apartheid vir my word) en dat ons
nou omtrent op jaar 5 of 6 sit. (Dis natuurlik alles baie subjektief.) Dus
is die volgende jaar of twee krities. En jy is reg, as die voordele nie gaan
begin deurkom nie, gaan iets meegee.
Net een perspektief: SA was vir omtrent 20 jaar lank (middel-sewentigs tot
middel-negentig) ‘n land waar die bevolking konsekwent jaar vir jaar
vinniger gegroei het as die ekonomie (Ignoreer nou maar die goud lopie van
80/81 en die beter groei wat dit veroorsaak het). Ek is bevrees ons sit nou
nog met daardie erfenis en dit gaan ‘n geslag neem om reg te stel. Soos
daardie demografiese golf van die tagtigs die arbeidsmark tref gaan ons net
heelwat meer mense inkry as wat ons kan absorbeer! So my eie gevoel oor
werkloosheid is dat beide indiensneming en werkloosheid gaan styg!!
Daarom steun ek jou idee van werkskeppingsprogramme baie sterk. Die Gauteng
provinsie se eksperiment in hierdie verband moet dopgehou word. So ook die
uitbreiding van die "work for water" program. Maar ten beste gaan jy ‘n paar
honder duisend mense intrek - teenoor ‘n paar miljoen wat werkloos is. Daar
is ‘n besliste logistieke plafon.
Maar nie werkprogramme ten koste van belastingsnitte nie. Lg gee volhoubare
groei, werkprogramme se voordeel kom tot ‘n einde sodra die geld nie meer
bestee word nie. Dis nie volhoubaar nie. ‘n Onderwyser wat R120 000 pj
verdien, en nou belastingverligting van se^ R4 000 kry, gaan daardie R4 000
of spaar of spandeer. In beide gevalle baat die ekonomie - en sal baat vir
jare om te kom solank die R4 000 nie deur belasting of inflasie opge-eet
word nie. Maar die voordeel van R4000 vir werkskepping kom tot ‘n einde
sodra die R4 000 nie meer bestee word nie.
Baie dieselfde argument geld vir my met die Basiese Inkomstetoelaag (BIT).
Dis nie nuwe geld in die ekonomie nie. Dis geld wat alreeds iewers aan die
werk is en nou deur belastings van daar onttrek word om BIT te betaal. Jy is
reg dat BIT ‘n uitbreiding gaan veroorsaak. Maar dit gaan ook ‘n kontraksie
erens anders veroorsaak. My eie gevoel is dat die netto resultaat inkrimping
gaan wees; gewoon omdat admin koste en korrupsie eers afgetrek moet word. Jy
belas R100 om ‘n R100 BIT te betaal. Maar die koste van die R100 uitkry by
die regte begunstigde moet van die R100 se voordeel afgetrek word - items
soos distribusie, rekenaars, sekuriteit en so meer. Huidige welsynstoelaes
kos omtrent 20% van die voordeel (Inter Governmental Fiscal Review). So nou
veroorsaak jy ‘n R100 kontraksie erens in die ekonomie om ‘n R80 voordeel
uit te betaal erens anders. Daar is geen manier wat dit die koek groter kan
maak nie. Sterk en ingrypende redistribusie, ja. Dus instrument van
herverdeling, baie beslis. Maar nie ‘n groei strategie nie.
Een van die redes waarom Mbeki se ekonomiese program nog nie genoeg voordele
lewer nie, is omdat investering nog te laag is. En investering se keersy is
maar net besparings. As jy nie genoeg van jou eie het nie, moet jy ander
mense se spaargeld gebruik - of te wel buitelandse investering. Die rule of
thumb hier in SA is dat 5% investering omtrent 1% groei veroorsaak. Ons
spaar tans omtrent 15% van BBP en ons groei teen … 3% - spot on. As ons
meer groei wil he^ moet ons meer investeer, moet ons meer spaar. En die
staat ontspaar (dissave) nog steeds (hulle hoop om dit teen 2004 te
elimineer). En individue dra omtrent slegs 0,2% by - in geen geringe mate
nie omdat belastings te hoog is. Besparing in hierdie land word maar gedra
deur die korporatiewe sektor. As die staat net gelyk kan breek (vergeet nou
maar van ‘n bydrae maak tot besparings) en individue spaar beitjie meer kan
ons die 15% besparings lig; kan ons meer investeer; kan ons meer groei kry.
BIT sal al hierdie by die venster uitgooi.
Baie sterkte en geniet die winter (daar is iets lekkers in koue weer en warm
serpe!!)
jp
