Bourommel en grondhope by Checkers in Fleurdal, Bloemfontein. Hierdie bourommel is ouer as die nuwe Suid-Afrika - dit lê al daar sedert die winkelsentrum gebou is - meer as 15 jaar gelede. Dit ondanks die feit dat hierdie yslike inkopiesentrum seker miljoene rande wins per dag maak, te oordeel aan die duisende karre wat daar stop. Die maatskappye wat hier winkels het, insluitende die reus, Checkers, kan hierdie bourommel verwyder en ‘n netjiese taxi-stasie bou sonder groot koste, maar dit gebeur eenvoudig nie.
Hoekom nie?
Die gierigheid en maatskaplike onverskilligheid van sommige maatskappye kan hieruit gesien word, maar ek sou eerder sê die hoofrede is die gemeenskap se politieke magteloosheid. Die Afrikaanse mense wat rondom hierdie onooglike plek woon, is nie gewoond daaraan om politieke mag uit te oefen nie. As hulle hul politieke mag ontdek sou hulle vinnig die probleem kon oplos.
Hul eerste stappe kan briewe aan Checkers, die koerant en die stadsraad wees. Dit sou waarskynlik genoeg wees om die winkels te dwing om die plek reg te maak, want die volgende stappe is regsaksie (want daar is sekerlik munisipale en veiligheidsregulasies ter sprake), en ‘n verbruikersboikot.
Trouens, ek het het sopas ‘n epos gestuur aan contact@shoprite.co.za - sommer in Afrikaans want Shoprite - Checkers is mos in Afrikaanse besit. Die korporatiewe posadres en telefoonnommer is ook hier.