Alles. Trotse ou koerante soos Die Volksblad het Engelse adresse op die Internet, bv http://www.news24.com/Die_Volksblad/Home. Dit is meer as net ‘n tegniese detailtjie - elke skakel na ons Afrikaanse koerante van enige ander webwerf af, moet met hierdie langdradige Engelse skakels opgeskeep sit. Skakels en soekenjins is eintlik alles op die Internet. Die skakel is eintlik jou hele identiteit, en bepaal hoe belangrik soekenjins jou webwerf ag. ‘n Webwerf word gewoonlik eerder vanaf ‘n soekenjin of ‘n skakel besoek, as vanaf die webwerf se voorblad. Dus maak dit sin om al jou skakels te handhaaf - dit verhoog die kans dat iemand wat by ‘n soekenjin begin by jou weblad kan beland.
Maar News24 hou nie hierdie skakels stand nie. Elke nou en dan kom ek agter dat ‘n artikel waarvan ek gehou het, net nie meer daar is nie.
Een of ander Engelssprekende IT knaap wat vir News24 werk, het dit seker verwyder. Want wat maak dit tog saak vir hom?
Ons koerante het ‘n plig om die geskiedenis wat hulle opgeteken het aan navorsers beskikbaar te stel.
Met die Internet hoef jy nie na die koerant se stowwerige ou argief te gaan nie - jy hoef nie eers in dieselfde stad of land te wees nie (of dis hoe dit kon gewees het, as ons koerante hierdie taak self opgneem het).
Met News24, beheer elke koerant nie self wat op die Internet met hom gebeur nie, en dit wys.
Vir hoe lank was daar nie eens een enkele Afrikaanse koerant wat RSS voere gehad het nie. Om die waarheid te se, ek het vandag gesien dat Beeld dit darem het - maar tot kort gelede was dit nie bekikbaar nie.
Afrikaanse koerante slaaploop na die dag wat breeband toegang algemeen in SA is - dis nie meer ver nie. Hoeveel mense gaan dan nog koerante koop? Waar is die innovasie om vir die nuwe media gereed te maak?
Byvoorbeeld dinge soos die Britse Guardian se uitstekende Comment is Free
Dit is die koerant se antwoord op webjoernale en die joernalisme van die individu.
Want met webjoernale en digitale kameras kan elkeen deesdae ‘n joernalis, kommentator en opinievormer wees (citizen’s journalism). Maar met Comment is Free, slaag die Guardian daarin om belangrik te bly en meer interessant te wees as die meeste politieke webjoernale. Trouens, Comment is Free het in ‘n baie kort tydjie een van die gewildste en belangrikste webwerwe in Brittanje, en self buite die land, geword. Dit is omdat die koerant self iets kon doen omtrent die uitdagings van die nuwe era.
Daar is nie eers (sover ek weet) ‘n Afrikaanse soekenjin nie. Dit is iets wat Afrikaanse koerante maklik sou kon daarstel as hulle dinamies was op die gebied van tegnologie. Maar hulle is nie, en kan nie eers wees nie, want die webbladsye is mos die verantwoordelikheid van News24 - ‘n identiteitlose ding wat nie Afrikaans se belang op die hart dra nie.
Eintlik sal ek graag wil weet hoe het NasPers besluit om sy hele web-poging ‘n Engelse naam te gee. Geld het maar gepraat, en Afrikaans het skynbaar nie getel nie. Maar hierdie finansiele berekening sal beslis verkeerd bewys word, want die waarde van gevestigde en gerespekteerde name soos Die Volksblad, Burger en Beeld is baie meer as die niksseggende News24
Engelsprekendes lees nie juis News24 nie, hulle lees eerder die Engelse koerante wat hulle ken. Deur alles vir almal te probeer wees faal News24 in net mooi alles. Niks (behalwe visieloosheid) verhinder NasPers as eienaar van ‘n hele klomp koerante, om elke koerant sy eie webwerf met sy eie naam en identiteit te laat kry nie.
NasPers is nou die maatskappy wie se koerante darem nog vir Afrikaans probeer stry, maar die NasPers grootbase blyk te gierig en sleg te wees.
Daarom sien ek uit na die dag wat individuele joernaliste met Afrikaanse webladsye (met Afrikaanse name) vir News24 begin aanvat. Daai dag is net om die draai.