Ek dink JP Landman se argument dat BIT net herverdeling (en nie groei nie), kan veroorsaak is onomstootbaar. So die vraag na BIT is basies ‘n vraag oor herverdeling.
Herverdeling:
Soms as ek sien hoe uitspattig en vertonerig sommige rykes leef, wil ek herverdeling steun. Dit voel vir my sommige rykes sal baat daarby - dit sal hul help om weer deel van die mensdom te word. Maar die vraag is natuurlik of dit die armes sal help. En die ANC se argument teen die BIT - naamlik dat dit ‘n afhanklikheidskultuur sal vestig - moet baie ernstig opgeneem word.
Die ANC se intellektuele hartland is Brittanje - dis ook waar hulle gesien het hoe lyk ‘n afhanklikheidskultuur. En dis nie mooi nie - mense wat hul hele lewe lank van die staat se gunste leef, en boonop ‘n probleem vir die samelewing word met hul onaangename gedrag. Ook eintlik soms so in SA, die enigste land in Afrika waar groot massas lank reeds (lank voor 1994) hoofsaaklik van staatstoelaes leef. Die ANC het ook wye ervaring van elders in Afrika, waar buitelandse hulp vir dekakes lank net mooi niks verbeter nie.
Maar Brittanje is ook waar die ANC eerstehands die waarde van ekonomiese groei, en die werksgeleentehede wat dit skep, gesien het. Werk veredel en gee selfrespek - dit bou ‘n samelewing en ‘n beskawing. Dis dinge wat ‘n BIT nooit kan doen nie, en dis dinge waarvan die waarde nooit oorskat kan word nie.
Groei:
Konstant positiewe ekonomiese groei met lae inflasie blyk moontlik te wees, behalwe in sekere uiterste gevalle, soos Japan wat sukkel om sterk te groei omdat die meeste behoeftes bevredig is, en lande wat so swak regeer word, dat daar nie die nodige sekuriteit bestaan wat nodig is vir groei nie - bv Zimbabwe. Buiten hierdie grensgevalle kry die meeste lande dit reg om inflasie in toom te hou en om volhoubaar sterk te groei. Veral ontwikkelende lande behoort sommer sterk te groei - bv China is besig om so miljoene mense uit armoede te lig, maar selfs die res van Afrika, waar die gemiddelde groei omtrent 5% is.
Pres Mbeki verstaan ekonomie, en baie mense besing gedurig sy (en Manuel en Mboweni) se hantering van die ekonomie. Ek dink ons moet eerder begin vra hoekom SA nie so sterk groei soos China nie.
Die bestandele van die resep vir groei is nie meer ‘n geheim nie:
Dit bestaan uit ‘n staat wat moontlikhede skep deur verstandig te bele in infrastruktuur en opleiding. Hou inflasie in toom, belastings laag, wees kompeterend, en handaaf wet en orde. Gebrek aan laasgenoemde is ook seker die hoofrede waarom SA nie vinnig genoeg kan groei nie.
Die vernedering van hulp
Hieronder is ‘n paar artikels wat my van die weldoener mentaliteit genees het. Dit wys op die vernedering en swakheid wat hulp veroorsaak, en Afrika se smagting na werk en selfrespek. Trouens, ek wil so ver gaan om te se dat hulp so vernederend en verlammend is dat dit maklik tot haat vir die weldoener kan lei.
(Ek wil beslis nie alle hulp, bv hulp aan vlugtelinge, by bogenoemde stelling insluit nie)
One Kenyan man’s mission: free Africa from yoke of aid
Do-gooders help to pave the road to Malawian hell
Does aid work? Yes - for Britain
Reflections on the politics of aid in Africa
Ek het argumente en skakels oor herverdeling, hulp, en internasionale hulp miskien te woes vermeng hier - dis nie presies dieselfde ding nie. Maar ek dink dis soortgelyk genoeg vir my argument.
Die enigste goeie ding wat die ryke vir die arme kan doen, is om vir hom werk te gee - en dan die beste van sy werknemer te verwag.