boorgat

January 6, 2007

Korporatiewe armlastigheid

Filed under: Afrikaans, Politiek, Ekonomie

checkers
Bourommel en grondhope by Checkers in Fleurdal, Bloemfontein. Hierdie bourommel is ouer as die nuwe Suid-Afrika - dit lê al daar sedert die winkelsentrum gebou is - meer as 15 jaar gelede. Dit ondanks die feit dat hierdie yslike inkopiesentrum seker miljoene rande wins per dag maak, te oordeel aan die duisende karre wat daar stop. Die maatskappye wat hier winkels het, insluitende die reus, Checkers, kan hierdie bourommel verwyder en ‘n netjiese taxi-stasie bou sonder groot koste, maar dit gebeur eenvoudig nie.

Hoekom nie?

Die gierigheid en maatskaplike onverskilligheid van sommige maatskappye kan hieruit gesien word, maar ek sou eerder sê die hoofrede is die gemeenskap se politieke magteloosheid. Die Afrikaanse mense wat rondom hierdie onooglike plek woon, is nie gewoond daaraan om politieke mag uit te oefen nie. As hulle hul politieke mag ontdek sou hulle vinnig die probleem kon oplos.

Hul eerste stappe kan briewe aan Checkers, die koerant en die stadsraad wees. Dit sou waarskynlik genoeg wees om die winkels te dwing om die plek reg te maak, want die volgende stappe is regsaksie (want daar is sekerlik munisipale en veiligheidsregulasies ter sprake), en ‘n verbruikersboikot.

Trouens, ek het het sopas ‘n epos gestuur aan contact@shoprite.co.za - sommer in Afrikaans want Shoprite - Checkers is mos in Afrikaanse besit. Die korporatiewe posadres en telefoonnommer is ook hier.

November 12, 2006

Ongelykheid

Filed under: Politiek, Ekonomie

Miskien is die titel van my vorige stuk -Die vernedering van hulp - oordrewe. Niemand kan seker se dat hy alles wat hy het self bereik het, sonder enige hulp nie. Iemand het maar gehelp - ouers, mentors, en ander weldoeners of selfs die staat. Nietemin, Paul Graham skryf baie interessant oor ongelykheid en tegnologie, talent en diefstal , en ek dink in sy artikel kan goeie argumente teen ‘n basiese inkomstetoelae gevind word. Volgens hom is daar basies net 2 stelsels - korrupsie, en welvaartskepping. In SA moet ons keer dat dit bars of dit gaan na eersgenoemde stelsel. Dit kan nie goed wees in die lang termyn as die verband tussen werk en welvaart verswak word nie. ‘n Kind dink daar is net ‘n sekere hoeveelheid welvaart, en dat Pappa dit regverdig moet verdeel. In werklikheid kan en moet elkeen (behalwe kinders) welvaart skep.

November 5, 2006

Die vernedering van hulp

Filed under: Politiek, Ekonomie

Ek dink JP Landman se argument dat BIT net herverdeling (en nie groei nie), kan veroorsaak is onomstootbaar. So die vraag na BIT is basies ‘n vraag oor herverdeling. 

Herverdeling:

Soms as ek sien hoe uitspattig en vertonerig sommige rykes leef, wil ek herverdeling steun. Dit voel vir my sommige rykes sal baat daarby - dit sal hul help om weer deel van die mensdom te word. Maar die vraag is natuurlik of dit die armes sal help. En die ANC se argument teen die BIT - naamlik dat dit ‘n afhanklikheidskultuur sal vestig - moet baie ernstig opgeneem word.
Die ANC se intellektuele hartland is Brittanje - dis ook waar hulle gesien het hoe lyk ‘n afhanklikheidskultuur. En dis nie mooi nie - mense wat hul hele lewe lank van die staat se gunste leef, en boonop ‘n probleem vir die samelewing word met hul onaangename gedrag. Ook eintlik soms so in SA, die enigste land in Afrika waar groot massas lank reeds (lank voor 1994) hoofsaaklik van staatstoelaes leef.  Die ANC het ook wye ervaring van elders in Afrika, waar buitelandse hulp vir dekakes lank net mooi niks verbeter nie.
Maar Brittanje is ook waar die ANC eerstehands die waarde van ekonomiese groei, en die werksgeleentehede wat dit skep, gesien het. Werk veredel en gee selfrespek - dit bou ‘n samelewing en ‘n beskawing. Dis dinge wat ‘n BIT nooit kan doen nie, en dis dinge waarvan die waarde nooit oorskat kan word nie.

Groei:

Konstant positiewe ekonomiese groei met lae inflasie blyk moontlik te wees, behalwe in sekere uiterste gevalle, soos Japan wat sukkel om sterk te groei omdat die meeste behoeftes bevredig is, en lande wat so swak regeer word, dat daar nie die nodige sekuriteit bestaan wat nodig is vir groei nie - bv Zimbabwe. Buiten hierdie grensgevalle kry die meeste lande dit reg om inflasie in toom te hou en om volhoubaar sterk te groei. Veral ontwikkelende lande behoort sommer sterk te groei - bv China is besig om so miljoene mense uit armoede te lig, maar selfs die res van Afrika, waar die gemiddelde groei omtrent 5% is.
Pres Mbeki verstaan ekonomie, en baie mense besing gedurig sy (en Manuel en Mboweni) se hantering van die ekonomie. Ek dink ons moet eerder begin vra hoekom SA nie so sterk groei soos China nie.

Die bestandele van die resep vir groei is nie meer ‘n geheim nie:
Dit bestaan uit ‘n staat wat moontlikhede skep deur verstandig te bele in infrastruktuur en opleiding. Hou inflasie in toom, belastings laag, wees kompeterend, en handaaf wet en orde. Gebrek aan laasgenoemde is ook seker die hoofrede waarom SA nie vinnig genoeg kan groei nie.

Die vernedering van hulp

Hieronder is ‘n paar artikels wat my van die weldoener mentaliteit genees het. Dit wys op die vernedering en swakheid wat hulp veroorsaak, en Afrika se smagting na werk en selfrespek. Trouens, ek wil so ver gaan om te se dat hulp so vernederend en verlammend is dat dit maklik tot haat vir die weldoener kan lei.
(Ek wil beslis nie alle hulp, bv hulp aan vlugtelinge, by bogenoemde stelling insluit nie)

One Kenyan man’s mission: free Africa from yoke of aid
Do-gooders help to pave the road to Malawian hell
Does aid work? Yes - for Britain
Reflections on the politics of aid in Africa

 

Ek het argumente en skakels oor herverdeling, hulp, en internasionale hulp miskien te woes vermeng hier - dis nie presies dieselfde ding nie.  Maar ek dink dis soortgelyk genoeg vir my argument.
 
Die enigste goeie ding wat die ryke vir die arme kan doen, is om vir hom werk te gee - en dan die beste van sy werknemer te verwag. 

August 17, 2006

JP Landman

Filed under: Politiek, Ekonomie

Een van my gunsteling Suid Afrikaners is JP Landman.  Ek het eenkeer (in 2003 toe my uitkyk baie verder links was as nou), reageer op iets wat hy in Beeld gekryf het.  Hy het toe die brief hieronder aan my gestuur.  Meer onlangs het is ‘n artikel in die M&G publiseer, waarin Landman  dieselfde uitgangspunt handhaaf as destyds aan my.  Dit is goed om te sien hy is nou ‘n lid van pres. Mbeki se ekonomiese adviesraad.  (En gelukkig was ek nooit ‘n kandidaat nie!)

Dankie vir jou brief wat Beeld na my toe aangestuur het. Jy maak
interessante punte en ek sal graag daaroor "gesels". Ek neem dus die
vrymoedigheid om te reageer.

Ek stem saam met jou twee toetse:  werkloosheid moet afneem en die
Gini-lesing moet verbeter. Dit is uiteindelik waaroor "the wealth of
nations" gaan - vir my in elk geval. My eie gevoel, wat ek ookal publiek
uitgespreek het, is dat ons besig is met ‘n tien jaar aanpassing (moontlik
langer hoe duideliker die nagevolge van apartheid vir my word) en dat ons
nou omtrent op jaar 5 of 6 sit. (Dis natuurlik alles baie subjektief.) Dus
is die volgende jaar of twee krities. En jy is reg, as die voordele nie gaan
begin deurkom nie, gaan iets meegee.

Net een perspektief: SA was vir omtrent 20 jaar lank (middel-sewentigs tot
middel-negentig) ‘n land waar die bevolking konsekwent jaar vir jaar
vinniger gegroei het as die ekonomie (Ignoreer nou maar die goud lopie van
80/81 en die beter groei wat dit veroorsaak het). Ek is bevrees ons sit nou
nog met daardie erfenis en dit gaan ‘n geslag neem om reg te stel. Soos
daardie demografiese golf van die tagtigs die arbeidsmark tref gaan ons net
heelwat meer mense inkry as wat ons kan absorbeer! So my eie gevoel oor
werkloosheid is dat beide indiensneming en werkloosheid gaan styg!!

Daarom steun ek jou idee van werkskeppingsprogramme baie sterk. Die Gauteng
provinsie se eksperiment in hierdie verband moet dopgehou word. So ook die
uitbreiding van die "work for water" program. Maar ten beste gaan jy ‘n paar
honder duisend mense intrek - teenoor ‘n paar miljoen wat werkloos is. Daar
is ‘n besliste logistieke plafon.

Maar nie werkprogramme ten koste van belastingsnitte nie. Lg gee volhoubare
groei, werkprogramme se voordeel kom tot ‘n einde sodra die geld nie meer
bestee word nie. Dis nie volhoubaar nie. ‘n Onderwyser wat R120 000 pj
verdien, en nou belastingverligting van se^ R4 000 kry, gaan daardie R4 000
of spaar of spandeer. In beide gevalle baat die ekonomie - en sal baat vir
jare om te kom solank die R4 000 nie deur belasting of inflasie opge-eet
word nie. Maar die voordeel van R4000 vir werkskepping kom tot ‘n einde
sodra die R4 000 nie meer bestee word nie.

Baie dieselfde argument geld vir my met die Basiese Inkomstetoelaag (BIT).
Dis nie nuwe geld in die ekonomie nie. Dis geld wat alreeds iewers aan die
werk is en nou deur belastings van daar onttrek word om BIT te betaal. Jy is
reg dat BIT ‘n uitbreiding gaan veroorsaak. Maar dit gaan ook ‘n kontraksie
erens anders veroorsaak. My eie gevoel is dat die netto resultaat inkrimping
gaan wees; gewoon omdat admin koste en korrupsie eers afgetrek moet word. Jy
belas R100 om ‘n R100 BIT te betaal. Maar die koste van die R100 uitkry by
die regte begunstigde moet van die R100 se voordeel afgetrek word - items
soos distribusie, rekenaars, sekuriteit en so meer. Huidige welsynstoelaes
kos omtrent 20% van die voordeel (Inter Governmental Fiscal Review). So nou
veroorsaak jy ‘n R100 kontraksie erens in die ekonomie om ‘n R80 voordeel
uit te betaal erens anders. Daar is geen manier wat dit die koek groter kan
maak nie. Sterk en ingrypende redistribusie, ja. Dus instrument van
herverdeling, baie beslis. Maar nie ‘n groei strategie nie.

Een van die redes waarom Mbeki se ekonomiese program nog nie genoeg voordele
lewer nie, is omdat investering nog te laag is. En investering se keersy is
maar net besparings. As jy nie genoeg van jou eie het nie, moet jy ander
mense se spaargeld gebruik - of te wel buitelandse investering. Die rule of
thumb hier in SA is dat 5% investering omtrent 1% groei veroorsaak. Ons
spaar tans omtrent 15% van BBP en ons groei teen … 3% - spot on. As ons
meer groei wil he^ moet ons meer investeer, moet ons meer spaar. En die
staat ontspaar (dissave) nog steeds (hulle hoop om dit teen 2004 te
elimineer). En individue dra omtrent slegs 0,2% by - in geen geringe mate
nie omdat belastings te hoog is. Besparing in hierdie land word maar gedra
deur die korporatiewe sektor. As die staat net gelyk kan breek (vergeet nou
maar van ‘n bydrae maak tot besparings) en individue spaar beitjie meer kan
ons die 15% besparings lig; kan ons meer investeer; kan ons meer groei kry.
BIT sal al hierdie by die venster uitgooi.

Baie sterkte en geniet die winter (daar is iets lekkers in koue weer en warm
serpe!!)

jp

May 9, 2006

Ag nee, Oompie Daan

Filed under: Politiek

Oompie Daan skryf ‘n brief in Beeld waarin hy sê:

“Danksy kolonialisme is dinge soos kos, skole, kerke, klinieke, onderhandelings, laetegnologie-sinkplate en hoëtegnologie-selfone deel van Afrika se ervaringswêreld. En die massa - openlik of heimlik - is versot op Euro-gesentreerde dinge!”

Ek kan my voorstel hoe Oompie Daan selftevrede terugleun, biertjie in die hand wanneer hy dit sê. Ek wonder hoeveel Afrikaanse mense glo sulke twak! Tegnologie het nog nooit ‘n probleem gehad om vreedsaam na ander lande te versprei nie. Tydens die Industriele Revolusie is Britse ontwikkelings en innovasies gou deur ander Europese moonthede nageboots. Vandag versprei selfoonnetwerke en die Internet vreedsaam deur Afrika.
Daar is eenvoudig niks goeds om van kolonialisme te sê nie - die Afrikaner het tog self die bitterheid daarvan gesmaak. Afgebrande plase, dood, verkragting en ongeregtigheid. Die ervaring van ander Afrika lande en Indie was soortgelyk.

Vandag is daar baie Afrikaanse mans wat weens regstellende aksie en die einde van wit bevoorregting dit nie so maklik vind om die baas te wees, of selfs werk te kry nie. Daarvoor het ek simpatie, maar dit voel vir my die drang om swart mense tydig en ontydig daaraan te herinner dat tegnologie grootliks ‘n Westerse geskiedenis het, is ‘n reaksie op hierdie verlies aan mag en geleenthede. En dis ‘n dom reaksie om twee redes:

Eerstens het dit niks met enigeiets wat vir ons van belang is, te doen nie. Afrikaanse mans moet eerder direk vir hul eie regte opstaan of ‘n ander plan maak, bv ‘n eie besigheid, as om swart mense te beledig met sulke uitlatings wat maar net nog meer vyande vir die Afrikaner maak.
Tweedens lyk dit na ‘n poging om ons sin vir eiewaarde te probeer verbeter. Die onuitgesproke aanspraak is dat omdat die meeste tegnologie in Amerika en Europa ontwikkel is, ons as blanke Suid Afrikaners op een of ander ongenoemde manier (agv ons blanke velle) kan deel aan daardie Westerse prestasies. Dit is ongelukkig nie so nie, net so min as wat die vet oom op die paviljoen deel het aan die prestasies van die fikse sportmanne op die veld, al voel dit miskien vir hom so. Ek glo mens moet eerder net op jou eie, persoonlike prestasies trots wees (of dalk rede vir verbetering sien!)






















Get free blog up and running in minutes with Blogsome
Theme designed by Hadley Wickham